| |||||
Nasionale leuse: Pax et Justitia (Latyn vir: "Vrede en Geregtigheid") | |||||
Volkslied: Saint Vincent, Land So beautiful (Engels vir: "St. Vincent, land so mooi") Koninklike volkslied: God Save the King (Engels vir: "God beskerm die koning") | |||||
Hoofstad | Kingstown | ||||
Grootste stad | Kingstown | ||||
Amptelike tale | Engels | ||||
Regering | Unitêre parlementêre grondwetlike monargie Charles III Susan Dougan Ralph Gonsalves | ||||
Onafhanklikheid | 27 Oktober 1967 27 Oktober 1979 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
389 km2 (184ste) 150 myl2 feitlik niks | ||||
Bevolking - 2021-skatting - 2021-sensus - Digtheid |
104 332[1][2] (179ste) 100 455 307 / km2 (39ste) 795,1 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2022-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2022-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,751[4] (89ste) – hoog | ||||
Geldeenheid | Dollar (XCD )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
AST (UTC-4) nie toegepas nie (UTC-4) | ||||
Internet-TLD | .vc | ||||
Skakelkode | +1-784 |
St. Vincent en die Grenadine (Engels: Saint Vincent and the Grenadines, ), soms kort St. Vincent genoem, is 'n eilandstaat in Noord-Amerika met 'n oppervlakte van 389 km² en 'n bevolking van 104 332 in 2021. Dit bestaan uit die hoofeiland St. Vincent en die noordelike eilande van die Grenadines; almal behoort aan die Klein-Antille.
St. Vincent en die Grenadine is in die oostelike deel van die Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Dit is in die suide van St. Lucia, in die weste van Barbados, in die noorde van Grenada en in die noordweste van Trinidad en Tobago geleë. Die hoofstad en grootste stad is Kingstown, wat op die hoofeiland St. Vincent geleë is.
St. Vincent en die Grenadine is op 22 Januarie 1498 deur Christophorus Columbus tydens sy derde reis vir Europa ontdek en ná die heilige Vincentius van Zaragoza genoem. Die eerste Europeërs wat dié eilande gekoloniseer het, was Franse. In 1627 het Engeland St. Vincent en die Grenadine opgeëis en Frankryk het sy fokus na Martinique verskuif. Tydens die Sewejarige Oorlog het die Britte dié eilande verower en volgens die Verdrag van Parys in 1763 het Frankryk dit aan Groot-Brittanje afgestaan. In 1779 het St. Vincent en die Grenadine weer onder Franse beheer gekom, maar volgens die Vrede van Parys van 1783 is dit by die Britse Ryk ingelyf. Tussen 1958 en 1962 het dit saam met ander Britse kolonies in die Karibiese gebied deel uitgemaak van die Wes-Indiese Federasie. Op 27 Oktober 1969 het St. Vincent en die Grenadine volle outonomie oor sy binnelandse sake ontvang en 'n geassosieerde land van die Verenigde Koninkryk geword.
Op 27 Oktober 1979 het St. Vincent en die Grenadine van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword. St. Vincent en die Grenadine is 'n grondwetlike monargie binne die Britse Statebond en Charles III van die Verenigde Koninkryk is die staatshoof van dié land. Die eilande is gesogte vakansieplekke en die ekonomie is veral op landbou, toerisme, konstruksie-aktiwiteite en buitelandse bankdienste gebaseer.[5] Daar is 'n klein hawestad met die naam Port Elizabeth op die Grenadine-eiland Bequia.